Saturday, November 16, 2019

Onthou


Presies twee weke gelede het die Springbokke die Rugby Wêreld beker titel verower met ‘n uitstekende vertoning teen Engeland. Ons almal was oorstelp met vreugde. Braaivleis vure het tot laatnag gebrand. Mense het saam die oorwinning gevier. Mense het weer gelag. Daar was mense wat trane van vreugde gehuil het nadat die eindfluitjie geblaas het.

Dit was ‘n baie goeie dag vir Suid-Afrika gewees. Daar was daardie enigheid en samesyn tussen ons almal gewees wat niemand sou kon wegneem van ons af nie. Ons almal het rede gehad om te glimlag na ‘n moeilike tyd waardeur ons almal was. Ons almal kon trane van verligting huil na wat weke vooraf in Suid-Afrika gebeur het met protes optogte regoor Suid-Afrika teen geslagsgegronde geweld.

Dit was ‘n baie gelukkige tyd, maar ongelukkig neem dit nie die kwessie weg van geslagsgegronde geweld nie want die gebeur nog elke dag in hierdie land en dit is ongelukkig ‘n realiteit wat elke Suid-Afrikaner in die gesig staar.

Slagoffers soos Uyinene Mrwetyana en Jessie Hess kon ongelukkig nie in die vreugde deel van die wêreld beker titel nie. Slagoffers soos Meghan Cremer en Lynette Volschenk kon ook nie daarin deel dat Suid-Afrika vir Engeland heel oortuigend geklop het nie. Daar is baie slagoffers soos hierdie vier vroue daar buite wat nie vergeet moet word nie.

Vir net ‘n oomblik van glorie het ons vergeet dat daar slagoffers is wat nooit weer die vreugdes sal ervaar wat ons ervaar nie. Ons was maar almal opgesweep deur die glorie van dit als. Niemand kan juis daarvoor blameer word nie want hierdie land het juis iets goeds nodig gehad om te gebeur sodat ons almal daardie hoop kan hê om ons aan die gang te hou.

Ons moet onthou waarvoor hierdie slagoffers gestaan het en hoekom ons almal moet baklei teen geslagsgegronde geweld teen ons vroue en dogters. Want hulle is ook dogters, niggies, vriendinne en susters wat nie verdien om so wreed van ons af weg te neem te word nie.

Terwyl ons almal se bekers oorloop van geluk na die oorwinning, moet ons nie vergeet van diè wat nie kan deel in die oorwinning nie en wat nie hier is om te deel in die blydskap daarvan nie. Want vroue soos Jessie Hess en Meghan Cremer sal altyd onhou word deur my as mens en as vrou.



Saturday, September 14, 2019

Daardie Opmerking van Dan


Dit is ‘n ope brief geskryf vir Dan Roodt. Die opmerking “Many South African women dress like prostitutes” en “Then they complain about #rape” was in alle opsigte onnodig gewees. Jy is bewus van die protes optogte teen geslagsgegrond geweld (in Engels staan dit beter bekend as Gender Based Violence) as jy nie so mooi die Afrikaanse weergawe verstaan nie. Dit is onnodig in een opsig dat soveel bejaarde vroue ook slagoffers van verkragting is. Ek kan jou verseker dat dit nie hul kleredrag was wat die verkragter enige aanleiding gegee het nie. Die slagoffers van verkragting doen in elkgeval niks om te verdien wat met hulle gebeur het in die eerste plek nie.

Veral nie kinders en babas nie. Daar was onlangs ‘n geval waar ‘n agt maande oue baba dogtertjie van Bonteheuwel in Kaapstad verkrag was. Sy was ‘n onskuldige dogtertjie wat nie verdien het wat met haar gebeur het nie. Kinders verdien nie die soort wreedheid wat mense aan hulle doen nie. Dit is onmenslik.

Jou onvervraagde opmerking sal natuurlik deur vroue persoonlik opgeneem word, veral as hulle slagoffers was van verkragting. En veral as hulle weet dat hulle dit nie verdien het nie. Ek het toe ek jou neerhalende tweet gelees het, dit baie persoonlik opgevat want 16 jaar gelede was ek byna ‘n slagoffer van verkragting toe ‘n inbreker in my ouerhuis ingebreek het en my vir twee ure aangehou het. Ek was besig om te stort toe dit gebeur het. Vir twee ure lank moes ek uithou en verhoed dat ek verkrag word met net ‘n handdoek om my lyf om myself te beskerm. As daardie inbreker nie gedoen het wat hy gedoen het nie, sou ek ‘n sweetpak broek en ‘n langmou top aangetrek het.

Ek weet alte goed dat ek nie verdien om absoluut vreesbevange te wees vir twee ure nie. Ek het nie verdien om te hoop dat die inbreker my sal verkrag nie want hy het my baie onkant gevang toe hy met ‘n baksteen my ouers se slaapkamervenster gebreek het en self ingekom het. So, dit is nie my skuld dit het gebeur nie en dit is nie asof ek die inbreker ingenooi het vir koek en tee nie.

Ek vat jou opmerking baie persoonlik want vandag se tye kan jy nie sê wat jy gesê het oor vandag se vroue wat volgens jou nou goedkoop aantrek nie. Ek het vir jou ‘n foto gestuur op twitter van my wat met ‘n langbroek, ‘n langmou top, ‘n sweetpakbaadjie met blommetjie patrone daarop en tekkies gestaan het voor ‘n spieël. Onthou jy daardie foto? Want ek wag nogsteeds vir jou mening siende dat jy so ‘n kenner is op die vroulike modefront.

Dan, dit is die klere wat ek byna elke dag dra in my lewe. Nie juis smaakvol nie, maar gemaklik. Ek stap van en oppad werk toe met daardie klere aan elke weeksdag. Ek doen dit want dit is presies wie ek is. Maar tog loop ek met daardie vrese in my binneste rond dat ek tog eendag iets gaan oorkom.

Ek het verlede jaar met soortgelyke klere na werk gestap en tog was ek geteister deur 3 mans gewees (die term waarna jy soek is street harassment). Dit was helder daglig met baie mense wat gestap het. Maar tog was ek geteister deur hierdie “mans” gewees wat gedink het dat ek net ‘n iemand is sonder enige emosie of gevoellens. En ja, daar was ‘n tyd waar ek gewonder het of ek hulle ooit enige aanleiding gegee het. Het die klere wat ek gedra het hulle enige aanleiding gegee? Het ek uitlokkend opgetree? Ek weet my antwoord is nee. Want ek het hulle absoluut geen aanleiding gegee nie. Ek het nie eens in hulle rigting in gekyk nie.

Ek het baie vernedered gevoel en gevoel dat ek myself dalk eerder onaantreklik moet maak om nie daardie soort aandag te kry nie. Ek hoop jy besef dit dat vroue ook so voel as mense soos jy sulke onvervraagde opmerkings op sosiale media maak soos wat jy gemaak het.

Die rede hoekom het byna elke dag met ‘n langbroek, sweetpakbaadjie en langmou top rondloop is dat diep binne-in my weet ek dat daar mense is soos jy nou byvoorbeeld wat eerder sal verkies om mense soos ek te blameer, of ‘n slagoffer van verkragting, omdat ons goedkoop gelyk het. ‘n Vrou  is veronderstel om trots te voel oor haarself en die klere wat sy dra. Maar ons kan dit glad nie doen as daar mense is soos jy wat eerder ‘n slagoffer sal blameer en nie die verkragter self nie. Laat ek jou herinner om die Dros verkragter,  Nicholas Ninow, te blameer nadat hy ‘n onskuldige dogterjie in ‘n badkamer verkrag het. Want dan sal ek weet dat daar ‘n tikkie menslikheid wees in jou.

In Suid-Afrika was daar in totaal van 52420 gevalle van seksuele oortredings gewees in die 2018/2019 finansieële jaar. Dit is op met 4.6% van die vorige jaar. Dit is skrikwekkend hoog. My vraag is net wat het jou besiel om daardie opmerking in die eerste plek te maak? Is jy bewus van hierdie statistieke? Ek hoop van harte jy is en verkragters die eintlike skuldige party is en nie die slagoffer nie.

Weet jy dat ‘n vrou se kanse om verkrag te word in Suid-Afrika 40% groot is? Het jy ook geweet dat net ‘n klein persentasie van gevalle van verkragting gerapporteer word aan die polisie? En dat daar ‘n klein persentasie van alle gevalle van seksuele oortredings uitloop op tronkstraf? Is dit dalk omdat daar mense soos jy wat eerder die slagoffers blameer en nie die blaam lê op die eintlike skuldige partye nie? Want glo my vry, daar is gevalle waar verkragtings nie gerapporteer word nie uit vrees dat die slagoffers die blaam gaan kry nie.

Geen slagoffer verdien enige blaam nie, ongeag wat sy daardie dag aangehad het nie. Jy sal my seker verwys as ‘n Femi-nazi of heeltemal iets anders, ek gee nie eintlik om waarna jy my sal verwys nie. Onthou net een ding, ek het hierdie brief geskryf in jou taal wat beteken dat ek ‘n 37-jarige Afrikaans sprekende vrou is. En dit gaan nie help jy sê dat ek maatjies is met die korruptes van die land nie want dit is net ‘n argument wat mense gebruik as hulle weet hulle is in ‘n hoek en begin verskonings uitdink.

As jy my wil verwys as ‘n femi-nazi of enige iets, doen dit gerus. Ek is vandag net dankbaar dat daar mense is soos jy wat vir my wys wat ek nie wil wees nie. En daarvoor is ek elke dag dankbaar.




Saturday, September 7, 2019

Geagte Meneer die President

Mense gee altyd hierdie advies dat jy altyd moet tel tot tien, diep asem haal, jou emosies onder beheer kry en dan jou hart uitpraat. Wel, dit was vir my ‘n bietjie van ‘n uitdaging gewees om dit te doen. Vandeesweek was my emosies juis oral oor die plek gewees met alles wat in Suid-Afrika gebeur het. Ek was eerstens oorweldig. Ek was moeg na ‘n paar aande se baie min slaap. Ek was kwaad. Ek was gefrustreerd. Ek was magteloos…

Vroue word verkrag en vermoor in Suid-Afrika. Kinders word verkrag en vermoor in Suid-Afrika. Vroue word op die wreedste maniere denkbaar vermoor en hul lyke word in stukke gesny deur moordenaars wat lyk asof hulle hul skoolloopbane moet nog voltooi. ‘n Vrou wat geleef het daarvoor om haar liefde vir diere te deel is vermoor en haar lyk is ‘n dag voor Vrouedag, nie so vêr van waar ek tans woon, gevind. ‘n Student met ongelooflike baie potensiaal word in ‘n poskantoor verkrag en vermoor. ‘n Swanger vrou van Manenberg in die Weskaap word deur 8 koeëls getref en vermoor deur bendes. ‘n Bekende bokser en karate kampioen word deur haar polisieman kêrel vermoor.

‘n Onskuldige kind word in Lavender Hill in die Weskaap deur ‘n dwaalkoeël getref en sterf nadat bendes in ‘n bakleiery betrokke geraak het. Nog ‘n onskuldige kind word net buite haar skool ontvoer deur vier mense en word in die vroeë oggendure afgelaai in ‘n verlate straat. Deur die Here se genade was sy gevind deur twee mense. Als dit het in net ‘n baie kort tydperk gebeur.
Moet ek voortgaan om die hel en hartseer te beskryf van die stand van ons vroue of kinders, of kry U, Meneer die President, nou die prentjie? Want ongelukkig het die nie vir my so gelyk nie. Met die gevolg van protes optredes deur duisende vroue (en mans) in die Kaapse middestad hierdie week. Die Suid-Afrikaanse polisie diens se lafaardige optrede teenoor hierdie vroue en mans het ‘n wrang smaak in my mond gelos. Ek het gedink die polisie is altyd daar om ons teen die regte kriminele te beskerm, maar U weet wat dog gedoen het? Instede, was die polisie se antwoord op die mense se kreet om hulp  waterkanonne en handgranate.

U beloftes van lewenslange tronkstrawwe vir moordenaars en verkragters kan sekerlik verwelkom word deur baie, maar gaan U dit volhou? Statistieke toon dat 40% van vroue sal in hul leeftyd in Suid-Afrika verkrag word. Ek het in ‘n paar inskrywings in vorige blogs genoem dat daar nagenoeg 50 108 seksuele oortredings was in die 2017 / 2018 finansieële jaar. Dit was nou volgens Africa Check. Ongelukkig word daar net ‘n skamele een uit vier verkragtingsake by die polisie aangemeld word en dat net 14% van alle sake uitloop of tronkstraf vir die oortreder. Sekerlik is U bewus van hierdie feite. My vraag is net hoekom nou eers optree en iets daaromtrents doen? Hoekom nou eers probeer om slagoffers van verkragting se geloof in die Suid-Afrikaanse regstelsel te herstel terwyl hul lewens nooit weer dieselfde sal wees nie? My voorstel sal wees om eers te werk aan die klein persentasie van sake wat suksesvol tot tronkstraf toe gelei het voordat U beloftes maak.

Soos U weet word vroue ook vermoor in Suid-Afrika. Byna elke liewe dag. Selfs met die vorige dag was daar nog twee vroue in die Weskaap vermoor. Vroue soos Meghan Cremer, Sadieka Newman, Lynette Volschenk, Leighandre Jegels, Jessie Hess en Uyinene Mrwetyana was almal in die laaste maand wreed vermoor. Vroue soos Leighandre word deur hul polisieman-kêrels vermoor. Vroue soos Verusha Padayachee word deur hul mans vermoor. Vroue soos Reeva Steenkamp, Jayde Inggs, Karabo Mokoena, Susan Rhode, Gill Packham, Lekita Moore, Hannah Cornelius, Anisha en Joey van Niekerk, Sharnelle Hough, Marna Engelbregcht, Maryka Bezuidenhout, Janika Mallo en nog baie vroue wie se name nooit eintlik deur die media genoem is nie. Hoekom nou eers hierdie beloftes van strenger wetgewing en dat daar swaarder opgetree gaan word? En hoekom sukkel ek om U te glo met die beloftes wat gemaak was?

Ek skryf hiedie ope brief uit protes uit vir elke slagoffer van moor den verkragting. Ek was uitgeput na hierdie week net om te lees hoeveel vroue verkrag was en hoeveel vroue vermoor was die afgelope week. Ek is moeg daarvoor om te sê dat genoeg nou genoeg is, maar ek sal dit weer en weer sê totdat U die volle prentjie kry. Suid-Afrika rou. Suid-Afrika bloei. Suid-Afrika is hartseer vir elke liewe slagoffer van moord en verkragting. Suid-Afrika, geklee in swart, het in opstand gekom en opgestaan vir elke liewe slagoffer van geslags gegronde geweld. Dit sal baie meer vat as net beloftes om oplossings te vind en dinge in hierdie land te verander.

Ek kan nie elke dag in die media lees oor ‘n onskuldige kind wat ontvoer, verkrag of vermoor word nie. Ek kan nie my kop in absoluut magteloosheid sak oor vroue wat deur hul lewensmaats vermoor word nie. Ek kan nie meer lees oor reeksverkragters wat so om en by 200 jaar tronkstraf kry vir hul dade teenoor onskuldige vroue nie. Maar ek doen dit elke dag en ek voel ek moet my deel doen om vir die slagoffers te baklei, want hulle word soms net in die steek gelaat deur die Suid-Afrikaanse regstelsel.

Hierdie week het ek elke vrou (en man) se frustrasie, magteloosheid en woede gevoel  want ek, myself het daardie emosies hierdie week ervaar. Dit is emosies wat nie baie lanklaas als in dieselfde tyd ervaar het. Want die Here alleen weet dinge kan nie so aangaan soos dit nou aangaan nie.  Ek sê dat genoeg nou genoeg is. Die minste wat U, die President, kan doen is om by die beloftes te hou wat U voor duisende Suid-Afrikaners wat in swart geklee was, gemaak het. U skuld ons ten minstens net dit.





Saturday, August 31, 2019

Swart Strikke

Vandag is dit die laaste dag van Vrouemaand. Vandag moet ons dit sekerlik vier. Ons moet die innerlike krag van die moderne Suid-Afrikaanse vrou vier en die heldinne vier wat ‘n verskil gemaak het in mense se lewens. Legendes wat nooit vergeet word vir watter impak hulle gehad het op mense se lewens en watter bydrae hulle gelewer het tot die demokrasie van Suid-Afrika. Moenie my verkeerd verstaan nie. Vandag moet ons vroue vier wat ons almal se lewens verbeter om net daardie verskil te maak want sonder hulle was daar geen hoop en geen geloof in die mensdom nie. En daar is in vandag se tye net ‘n klein bietjie geloof oor vir die mensdom want ons almal faal een of ander tyd. Dit is ‘n gegewe.

Vrouemaand het gekom met die hoop dat ons vroue kan trots wees om te wees wat ons is. Suid-Afrikaanse vroue wat in vandag se moderner tye harder kan werk om vooruitgang te verseker vir ons almal. Om geseend te wees om stemme te wees vir mense wat nie daartoe in staat is om vir hulself te kan opstaan nie. Vrouemaand het eintlik gekom met die hoop dat sterk, onafhanklike vroue gevier kan word, maar ek vanuit my perspektief kan dit nie so sien nie.

Hierdie maand was in ‘n totale donkerte gehul met wrede moorde van vroue en dogters. Ons vroue en dogters om mense te laat verstaan dat geweld in Suid-Afrika ‘n radikale impak het op ons almal. Misdaad en moord raak ieder en elke liewe Suid-Afrikaner, ongeag die ras en kulturele agtergrond van daardie mens. Dit raak mans, boere, gewone mense, maar die raak die weerloses. Vroue en kinders. Vrouemaand was ‘n donker tydperk vir ons almal.

Want op 8 Augustus 2019 het ons hoop dat Meghan Cremer lewend gevind sou word, soos ‘n huis van kaarte inmekeaar getuimel toe haar lyk gevind is. Almal was woedend oor die nuus. Ek myself was woedend en hartseer oor die nuus.

Op die dieselfde dag was nog ‘n vrou, Sadieka Newman van Manenberg, Weskaap doodgeskiet deur bendes. Sadieka was 8 maande swanger gewees. Die nuus van haar moord het etlike dae na die nuus van Meghan Cremer se moord gekom. Die feit dat twee vroue se moorde die land geskok het en dit terwyl ons almal Vrouedag moes vier, los ‘n bitter smaak in ons gemoed.

Op 22 Augustus 2019 was Lynette Volschenk se wrede moord bekend aan Suid-Afrika. Haar moord was so wreed gewees dat ek nie op die dag van die nuus nie kon glo dat die mensdom so wreed en genadeloos kan wees nie. Ongelukkig kon ek onthou waar ek was toe ek die nuus vir die eerste keer op News24 lees. Ongelukkig kan ek onthou hoe ek gereageer het op die nuus. En ongelukkig is dit iets wat ek nie sal vergeet nie. Elke Suid-Afrikaner was geskok gewees, en elke Suid-Afrikaner was woedend gewees. Byna elke Suid-Afrikaner het haat vir die verdagte gedra want geen versagtende omstandighede sal dit ooit regverdig wat hy aan Lynette gedoen het nie.

Op 24 Augustus was ‘n dogtertjie, Nathlia Pienaar, deur bendes in Lavender Hill vermoor terwyl sy buitekant gespeel het. Die nuus het my magteloos gevoel want bendegeweld is een groot probleem waarvoor daar nie eintlik oplossings is nie. Soveel slagoffers het die prys daarvoor betaal, ten spyte van die teenwoordigheid van soldate in die areas wat geteister word. ‘n Onskuldige dogtertjie wie se lewe op so ‘n wrede manier geneem is van haar verdien geregtigheid en verdien om gehoor te word.

Verusha Padayachee se lyk was in haar huis in Pietermaritzburg gevind en haar man is die hoofversagte vir haar moord. Haar man is nog op soek. Leighandre Jegels is gister deur haar kêrel vermoor. Sy was ‘n bokser van Oos-London gewees. Haar dood het ook skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur en vrouemaand op ‘n tragiese wyse laat eindig.

Baie vroue het hierdie maand swart strikke op hul Facebook profiele gehad, ‘n simbool van rou en hartseer. Ek het ook ‘n foto van ‘n swart strik op my Facebook profiel gehad juis omdat vrouemaand ‘n donker tydperk is vir almal. Die swart strik is vir elke vrou en dogtertjie wat elke dag vermoor word in Suid-Afrika, nie net op Vrouemaand nie.

Vrouemaand kan hierdie maand afgemaak word as ‘n suksesverhaal wat oorvertel kan word nie. Nie as daar so baie vroue ly onder mishandeling en geweld, dogtertjies wat aangerand en verkrag word. Vrouemaand kan beslis nie gevier word as daar elke dag stories gelees word oor hoe vroue mishandel word nie. Swart strikke is ‘n simbool van rou en ek rou vir vroue soos Meghan, Sadieka en Lynette. Ek rou vir dogtertjies soos Nathlia wat nie meer hier met ons is nie.

Vrouemaand is juis veronderstel om gevier te word ter viering van die 20 000 vroue wat ‘n optog na die Uniegebou gehou het om te baklei vir regte in 1956. Ons in 2019 moet dalk ‘n optog hou om die plaag van geweld teen ons vroue en kinders stop te sit. Want anders het ons geen ander keuse as om te rou oor slagoffers soos Meghan Cremer en Sadiekah Newman nie.



Sunday, August 18, 2019

Ware Feite

Hierdie inskrywing wou ek al weke terug neerpen en op hierdie blog sit, maar die lewe het my besig gehou. Ek was besig met persoonlike sake byvoorbeeld waaroor ek nie eerder nou wil bespreek nie, want dit is rêrig nie nou op hierdie oomblik ter sprake nie. Iets wat ek sowat 3 maande gelede terug gesien op Facebook het my geweldig baie gepla en wou my eenvoudiglik nie los nie. Aangesien dit hierdie maand Vrouemaand is, sien ek dit nou as gepas om hierdie inskrywing te doen.

Op 13 Mei 2019, het ‘n jong vrou van Pretoria, Kyra Hempel, ‘n artikel aan Netwerk24 geskryf wat genoem het dat Afrikaners moet praat oor verkragting. Sy het aan haar brief genoem dat die welstand van slagoffers onder die huidige verkragtingskultuur onder die mat ingevee word. Eintlik stem ek nie 100% saam met haar op daardie stelling nie want hier is ek, ‘n Afrikaanse vrou van 37 jaar oud, en ek is iemand wat die kwessie van verkragting sal bespreek en die feite aan mense wys. En ek weet van baie Afrikaners wat dieselfde doen as ek. Ek sien dit byna elke dag op Facebook wanneer ek nuusberigte op hierdie blog se blad deel oor verkragters wat tronkstraf gekry het vir hul oortredings.

Kyra noem ook in haar artikel die skokkende statistieke van verkragting. Ek het in my vorige inskrywing Weerloos genoem dat 40% van vroue in Suid-Afrika in hul leeftyd slagoffers sal word van verkragting. Daar was ook, volgens Africa Check, ‘n totaal van 50108 slagoffers van seksuele oortredings in die 2017 / 2018 finansiële jaar en net ‘n klein persentasie van sake het suksesvol daartoe gelei tot tronkstraf. Kyra het dit ook genoem in haar artikel wat op 13 Mei 2019 verskyn het, presies sestien jaar nadat ek so amper ‘n statistiek van verkragting geword het na ‘n huisbraak waar ek vir langer as 2 ure aangehou was deur ‘n inbreker.

Ongelukkig is daar ‘n handjievol mense in hierdie land wat die feite van verkragting as bog sal uitmaak in ‘n samelewing waar die verkragtingskultuur ‘n onderwerp van bespreking is. Ongelukkig sal daar mense wees wat so ver sal gaan om Suid-Afrika se verkragtingstatistieke as ‘n “onsamehangende gebrabbel” sal uitmaak, soos gemaak deur ‘n kamtige Vlogger wat opstaan vir Afrikaner regte op 13 Mei 2019. Vir diè wat nie weet wat ‘n Vlogger is nie, dit is ‘n persoon wat basies ‘n video blogger is wat sy of haar eie YouTube kanaal het.

Ek was tot in my diepste siel in geskok gewees oor die Vlogger se reaksie op hierdie artikel. Dit is beskou as ‘n klap in die gesig van elke slagoffer van verkragting en sy term “onsamehangende gebrabbel” wys net aan my en ek is amper seker daarvan baie ander mense daar buite oor hoe hy voel oor verkragting in die algemeen. Dit het my ook laat wonder of hy die kwessie van verkragting in ‘n ernstige lig beskou as hy dit snaaks vind dat dit deur ‘n “Femi-Nazi” geskryf is.

Ek het eintlik myself belowe om hierdie inskrywing te doen nie vanuit ‘n plek van woede, of frustrasie. Ook nie wraak nie want ek is nie iemand wat eintlik baie wraakgierig is nie. Dit steek my net baie dwars in die krop dat ‘n sogenaamde Vlogger of Blogger of wat ook al hy is, so ‘n uiterse onsensitiewe en neerhalende opmerking sal maak in ‘n land waar dit met die hoogste verkragtingsyfer in die wêreld sit.

Op Dinsdag, 14 Augustus 2019, het The Herald in Port Elizabeth ‘n nuusberig gehad oor twee dogtertjies, onderskeidelik 5 en 6 jaar oud wat ontvoer en verkrag was deur ‘n 49-jarige man in 2017. Die twee dogtertjies was gelok na ‘n hut in New Brighton waar hulle verkrag is, en waar die 6-jarige dogtertjie vir dood agtergelaat is.

Die twee dogtertjies sal ongelukkig moet getuig en die hele ervaring herleef tydens die saak, volgens The Herald. Ek kan myself nie indink waardeur daardie twee slagoffertjies moet gaan nou op hierdie oomblik nie. Ek weet net hul lewentjies is vir ewig geruineer en dit deur een man se wrede en onmenslike optrede teenoor hulle. Ek weet ook dat niks is ooit regverdig hieroor nie.

Volgens die Demokratiese Alliansie, het die Suid-Afrikaanse polisie nie genoeg verkrag-toets-toestelle om die nodige bewyse in te samel nie. Daar is onthul dat 76% van alle polisiestasies in Suid-Afrika  nie toestelle het vir volwassenes, en dat daar 69% nie toestelle het vir jong kinders nie. Dit beteken basies dat die Suid-Afrikaanse polisie diens nie voldoende bewyse kan insamel nie en dat dit die kanse vir vervolgings drasties verminder.

En dit alleen is ‘n baie ernstig probleem. Juis omdat Suid-Afrika met die hoogste syfer van verkragting in die wêreld het. Op ‘n meer gereelde basis berig alle media instansies oor reeksverkragters wat lewenslank gevonnis is vir hul oortredings. Daar word ook op ‘n meer gereelde basis berig oor familielede of vriende van familie wat skuldig bevind word aan verkragting.

Suid-Afrika het beslis nie nodig om te sien dat die statistieke van verkragting, wat al klaar skrikwekkend hoog is, uitgemaak word as “onsamehangende gebrabbel” nie. Beslis nie in vandag se tye nie. Die statistieke spreek vanself. Die skokkende feite van ‘n groot tekort van verkrag-toestelle spreek vanself. Die gereelde berigte van verkragters wat verhoor word of wat tronkstraf kry (die klein persentasie daarvan) spreek vanself. Basies, Suid-Afrika kan nie bekostig om opmerkings te lees wat uit blatante onkunde uit gemaak is nie.

Om eerlik te wees het ek vir die heel eerste keer gelees van hierdie Vlogger wat ‘n YouTube kanaal het wat handel oor Afrikaners se sukkel om voortbestaan en wat baklei vir sy mense. Ek kan ongelukkig nie myself tel as deel van sy mense nie, want ek sal saamstem met die “femi-nazi’s” van die wêreld as dit kom by die ernstige gevolge van verkragting. Ek het met alle eerlikheid nie geweet wie presies hierdie persoon was totdat The Citizen en Unicorn Riot my in September van verlede jaar my bewus gemaak het van sy bestaan.

Verkragting is ‘n kwessie wat in ‘n ernstige lig gestel moet word want daar ‘n alreeds ‘n klein persentasie vervolgings en daar is alreeds min toestelle by polisiestasies regoor Suid-Afrika om sake suksesvol te vervolg. Suid-Afrika sit met baie groot probleme wanneer dit kom by verkragting.




Sunday, August 11, 2019

Weerloos

Tydens hierdie langnaweek het ek heelwat artikels in die media gelees oor gelykheidsregte, huishoudelike geweld en verkragting van vroue in Suid-Afrika. Daar was heelwat baie lig gewerp op hierdie onderwerpe en dit word regverdig met die feit dat Suid-Afrika ongelooflik baie sukkel om hierdie ernstige kwessies wat ons vroue van vandag raak, hok te slaan.

Vrouedag word juis gevier om die uniekheid en innerlike krag van elke vrou te vier. Dit kan ‘n moederfiguur wees, ‘n dokter of ‘n prokureur. Dit kan ‘n onderwyseres wees wat leerlinge aanspoor om hul bes te doen om te presteer of dit kan ‘n maatskaplike werker wees wat ‘n onskuldige kind neem na ‘n plek van veiligheid en daardie kind die geleentheid gee om sy of haar tweede kans ten volle te benut.

Vrouedag se oorsprong kom vanaf 9 Augustus 1956 toe 20 000 vroue van regoor Suid-Afrika ‘n protes optog gehou het na die Uniegebou in Pretoria teen die voorgestelde aanpassings van die Group Areas Act 1950 om sekere apartheids wette toe te pas in die areas waar arm mense gewoon het. Hierdie demostrasie was gelei deur onder andere Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams.

Hierdie dag is ‘n merk in die geskiedenis van Suid-Afrika. Vroue het baklei vir regte en tot vandag toe baklei vroue nogsteeds vir hul regte in Suid-Afrika. En ongelukkig in vandag se moderner tye baklei vroue nogsteeds om oorlewing. Dit was dalk destyds baie anders as vandag. Vroue in vandag se tye het soveel meer geleenthede as wat vroue gehad het dekades gelede. Daar is baie vroue vandag wat hoë poste beklee, en standvastige loopbane het. Dit is omtrent al voordeel wat ek kan noem wanneer dit kom by die lewenswyse waarop vroue van vandag leef.

Volgens Africa Check was daar in totaal 50 108 seksuele oortredings in die 2017 / 18 finansiële jaar. Dit is ook geskat dat nagenoeg 40% van vroue sal verkrag word in hul leeftyd. Net een uit vier gevalle van verkragting word aangemeld en maar net 14% van alle beskuldiges kry tronkstraf.

Drie vroue word per dag vermoor in Suid-Afrika deur hul mans, kêrels of verloofdes, of ook in gereelde gevalle, hul ekse. Dit is vyf maal hoër as die wêreldgetal. Daar was in die 2017 / 18 finansiële jaar 2930, ‘n gradering van 15.2 per 100 000 vroue in Suid-Afrika. Volgens Africa Check se statistieke is dit die hoogste in vyf jaar.

Vroue is veronderstel om veilig te voel in Suid-Afrika. Dit is ‘n gegewe. Ongelukkig spreek die bogenoemde statistieke van Africa Check boekdele. Dit is basies die hele opsomming van die toestand waarin vroue in Suid-Afrika hulself bevind en dit skep nie ‘n baie mooi prentjie nie. Hierdie week alleen is Meghan Cremer vermoor in Kaapstad en haar lyk is Donderdag, 8 Augustus gekry in ‘n vlakgraf in Philippi.

‘n Hoogswanger vrou is hierdie naweek in Manenberg, Kaapstad doodgeskiet toe sy haar vriend winkel toe gegaan het om voorafbetaalde elektrisiteit te koop. Sy was agt maande swanger gewees en was ‘n Ma van twee kinders alreeds. Sy was vermoor deur bende lede. Haar naam was Sadieka Newman.

Net twee gevalle in ‘n bestek van ‘n week. Dit is die naweek waar vroue gevier word. Tragies genoeg is dit amper nooit die geval nie. Vroue word geteiken en vermoor. Ongelukkig is vroue sagte en weerlose teikens. Vroue regoor Suid-Afrika leef in vrees vir hul lewens. Elke dag, en nie in hierdie tydperk waar vroue die spesiale erkenning kry wat hulle verdien nie.

Ek leef ook in vrees. Elke dag wanneer ek elke oggend in die donker moet staan en wag vir ‘n bus of wanneer ek werk toe stap in die donker strate van die middestad in die Kaap. Ek was absoluut vreesbevange sestien jaar gelede toe ‘n inbreker in my ouerhuis ingebreek het en my aangehou het, maar met die Here se genade het ek ongedeerd daarvan afgekom. Ongelukkig het die vrees agtergebly vir sestien jaar lank. Ek voel tot vandag toe baie weerloos en bang as ek oor my skouer loer in die donker strate van Kaapstad. En dit is nie hoe dit moet wees nie.

Dit is ook baie hartseer as ek vir jare aaneen berigte in die media lees van reeksverkragters wat onskuldige vroue aangeval het en hul lewens geruineer het.Dit is nogals ‘n groot probleem as ek op ‘n gereelde basis lees van reeksverkragters en die trauma wat hulle vir hul slagoffers veroorsaak het. Dit maak my kwaad as ek lees van hoë profiel moordsake waar die Jason Rhode’s en Rob Packham’s van die wêreld hul vrouens vermoor.

Ek weet dit het my diep ontstel en baie kwaad gemaak toe Meghan Cremer se lyk gevind is, want ek het daardie stukkie hoop binne-in my gehad dat sy ongedeerd gevind sou word. Dit het my nog verder ontstel toe ek lees van Sadieka Newman en die feit dat sy agt maande swanger was toe sy doodgeskiet is deur bendes in die Kaapse Vlakte.

Vandag het ek gewens dat ek ‘n bietjie meer positief kon wees. Ongelukkig is daar hopeloos teveel negatiwiteit om enige iets positiefs te sê in hierdie inskrywing. Dalk as die Suid-Afrikaanse regering strenger opgetree het, dan was hierdie inskrywying meer positiefs.

Vroue het in vandag se tye baie sterker vordering gemaak. Dit is darem een positiewe aspek. Ongelukkig word kwessies soos huishoudelike geweld en verkragting nogsteeds in die lig geplaas van die plaaslike media en ek blameer glad nie die instansies nie. Want op die ou einde van die dag is dit nie goed genoeg om die kwessie van geweld teen vroue te erken nie. Daar moet ernstiger opgetree word.

Meghan Cremer

The 1956 Womens March

Violence against South-Africa's women, children verifying claims at a mens summit

Heavily pregnant mom shot dead in Cape Town

The Two Stories of South Africa's Rape Stats




Friday, August 9, 2019

Meghan Cremer

Dit is vandag 9 Augustus 2019. Vrouedag word op hierdie dag in Suid-Afrika gevier. Gewoonlik op so ‘n dag vier ek dit met koffie, sjokolade, so vier of vyf chick flicks en ‘n inspirerende boodskap of twee op sosiale media platforms. Ek doen my deel om elke vrou spesiaal te laat voel met mooi boodskappe en bemoedigende woorde. Dit gee vir my die aanmoediging wat ek soms nodig het om deur enige iets te kom waardeur ek gaan.

Ek glo vroue speel ‘n baie groot rol in Suid-Afrika. Hulle is ons moeders, susters, niggies, oumas en vriendinne. Hulle is ons onderwysers, verpleegsters, dokters, prokureurs, en mense wat sal uitgaan om ‘n verskil in mense se lewens te maak wat nie baie het in die lewe nie. Daar word meer en meer gesê dat Suid-Afrika baie meer sterk vroue nodig het om vegters te wees en vas te staan vir waarin hulle glo.

Vir my was gister nie ‘n baie aangename dag nie. Als wat kon skeefgeloop het, het skeefgeloop. Dank die Vader dit is ‘n vakanasiedag, het ek vanoggend gedink toe ek my oë oopgemaak het agtuur. Ek het darem ‘n goeie nagrus gehad na ‘n baie slegte dag. Dit is een troos daaraan verbonde. Maar ongelukkig kan ek nie my slegte dag vergelyk met diè van Meghan Cremer se familie en vriende nie. Want Meghan is nie meer met ons nie. Sy is nie meer met die vroue van Suid-Afrika nie.

Meghan lyk is gevind Donderdagoggend in ‘n vlakgraf by Philippi, Kaapstad  nadat sy op 3 Augustus vermis geraak het. Haar motor is ‘n paar dae nadat sy vermis geraak het, gevind met drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. Die drie verdagtes het intussen in die hof verskyn Donderdag nadat haar lyk gevind is.

Ek doen nie hierdie inskrywing omrede dat ek ‘n baie slegte dag gehad het nie. Die stukkie raad van dat jy eers moet diep asemhaal, wag en bid voordat jy woorde spreek of skryf is gewoonlik baie waar, dus hoekom ek vandag gebruik om dit te skryf. Om dinge net bloot uit ‘n beter perspektief te skryf.

Ek was gister baie onsteld gewees oor die nuus van Meghan se moord. Baie kwaad. So kwaad dat ek myself op sosiale media gewend het en die drie moordverdagtes slegte dinge toegewens het. Dit is beslis elke Suid-Afrikaner se gevoel vandag en ook gister gewees toe die nuus bekend geword het. Ek was net baie kwaad gewees omdat ek op daardie tydstip gevoel het dat dit een vrou net te veel gewees het.

Ek het vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd die gevoel van haat ervaar. Van moedeloosheid. Van magteloosheid. Elke negatiewe gevoel wat jy ooit kan aan dink het ek ervaar. Laas toe ek die gevoel van haat ervaar het was toe Courtney Pieters se lyk op 13 Mei 2017 in Epping gekry het. Ek het ook op daardie dag nie juis ‘n goeie dag gehad nie want dit was op die dag veertien jaar vantevore dat ek byna my lewe verloor het in ‘n inbraak in my ouerhuis.

Philippi, waar Meghan se lyk gevind is, is basies ‘n klipgooi van my af. Ek bly nie so ver van die area af nie. Die feit dat Meghan vermoedelik in die area vermoor is het my bang gemaak eers. Dit het my laat besef dat elke jong vrou, soos ek basies nog baie weerloos is en ‘n maklike teiken daarby ook. Almal is weerloos in Suid-Afrika. Daar is geen uitsondering nie.

Meghan Cremer se moord het die hele Suid-Afrika geskok. Nie net vir my of net ‘n paar mense nie. Ek bedoel almal. Almal is kwaad. Vroue is bang en voel baie weerloos. Almal is woedend. Almal is hartseer. Dit was vir ons almal net een slagoffer te veel gewees. Ons almal sal nooit veilig kan voel as ‘n jong, pragtige vrou met die naam van Meghan Cremer ‘n baie duur prys betaal het nie. Mans en vroue.

Die nuus van haar moord maak dit ongelukkig baie moeilik om vandag Vrouedag te vier in Suid-Afrika. Die moord van elke vrou in Suid-Afrika maak dit moeilik om die dag te vier. Die realiteit is dat ons as vroue stelselmatig vordering gemaak het, maar nogsteeds en sal altyd ‘n baie duur prys betaal want ons almal kan nie eintlik sê dat ons vry voel in ‘n land soos Suid-Afrika nie.
Ons was nooit daardie voorreg gegee om vry te kan voel as ons elke keer oor ons skouers moet loer of agter hoë mure moet bly vir veiligheid nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sal nogsteeds die dinge doen wat in my eerste paragraaf genoem is. Koffie drink, sjokolades eet en films kyk wat handel oor sterk en onafhanklike vroue, maar dit sal ek doen met ‘n baie swaar gemoed, want daar is vroue vandag wat nie daardie voorreg sal hê om dit te doen nie.

Meghan Cremer